General Newsflashes

 

Friday, 06 December 2013 07:51

Verbied jag en ‘mens, dier en natuur ly’

Sake24
Deur: Vida Booysen

Verbied jag en ‘mens, dier en natuur ly’

Die Amerikaanse TV-aanbieder en jagter Melissa Bachman se leeujag in Suid-Afrika het die afgelope paar weke die tonge los gehad op sosiale netwerke.

Dit het opnuut die kollig laat val op die Suid-Afrikaanse jagbedryf, en veral trofeejag het onder kritiek deurgeloop.

Die beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het in sy reaksie gewys op die aansienlike ekonomiese voordele wat die jagbedryf vir Suid-Afrika bied – voordele wat volgens Adri Kitshoff, uitvoerende hoof, nie deur natuur¬bewaring alleen verkry word nie.

Phasa laat tans navorsing hieroor deur die Noordwes-Universiteit doen en voorlopige bevindings bereken dat elke buitelandse jagter gemiddeld R127 000 per besoek bestee. Dié bedrag sluit nie die vlugkoste in nie.

“Onthou, buitelandse jagters kom nie net skiet en vlieg nie, hulle gaan op ekspedisies, koop klere en ammunisie, laat diere opstop en kom dikwels weer terug, dié keer saam met vriende of familie.”

Sy wys daarop dat jagtogte nie in nasionale parke, wat in elk geval deur baie toeriste besoek word, gedoen word nie, maar in afgeleë gebiede waar toeriste dikwels nie uitkom nie en waar die grond nie geskik is vir enige volhoubare boerdery behalwe wildboerdery nie.

Deel die jagbedryf dan hoegenaamd enige van sy ekonomiese voordele en inkomste met die omliggende gemeenskappe

Kitshoff wys op die voorbeeld van Botswana, waar die regering ’n verbod op jag geplaas het.

“Daar was gemeenskappe wat heeltemal afhanklik was van die groot jagondernemings wat safari’s vir buitelandse jagters gereël het.

“Hulle het klinieke gebou, boorgate gesink, paaie gelê – vir daardie gemeenskappe het die wild waarde geskep wat nou nie vervang kan word nie.”

In Suid-Afrika word bereken dat die wildbedryf drie keer meer mense in diens neem as konvensionele landbou, volgens Fred Camphor, president van die Suid-Afrikaanse Jagters-en-wildbewaringsvereniging (SAJWV), wie se 36 000 lede hoofsaaklik geleentheids- en benuttingsjagters is, nie trofeejagters nie.

Kitshoff is skepties daaroor of fotografiese ekspedisies dieselfde voordele as jagekspedisies kan skep.

“Dis eenvoudig nie so winsgewend nie. ’n Groot reservaat soos Timbavati het bevind dat hy R1 miljoen met die jag van ’n enkele witrenoster kan inbring, ook om sy teenstropingsaktiwiteit te finansier. Dit sal ongeveer 18 000 bednagte verg om dieselfde bedrag met gewone toerisme te verdien.”

Selfs uit die natuurbewaringsektor is daar pragmatiese erkenning dat hy nie sonder die geldelike steun van die jagbedryf kan klaarkom nie.

“In Afrika is trofeejag die vernaamste bron van inkomste vir groot afgeleë wildernis-gebiede buite natuurreservate,” sê dr. Luke Hunter, president van die niewinsgewende bewaringsorganisasie Panthera.

Hunter sê hy verafsku trofeejag, maar besef dat nie alle vorms van jag noodwendig sleg is vir leeus nie.

“Jag kan volhoubaar wees wanneer konserwatiewe kwotas ingestel word en slegs ouer leeumannetjies gejag word.”

Hy sê die handvol jagters wat afgeleë jagvelde besoek, help dié gebiede bewaar.

“Hulle voorsien ekonomiese argumente vir Afrika-regerings om safarigebiede ongerep te hou. Daarsonder begin dit na ’n aantrekliker alternatief lyk om beeste en gesaaides daar in te stoot.”

Die jagbedryf in syfers

- Voorlopige bevindings van die departement van omgewingsake toon dat jagtoerisme verlede jaar R811 miljoen tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra het.

- Die jagbedryf dra jaarliks sowat R9 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by. Dit kan vergelyk word met die tekstielbedryf, wat R9,48 miljard tot die BBP bydra.

- Die meeste jagtoeriste kom van die VSA, gevolg deur Denemarke en Spanje.

- Verlede jaar is 40 866 stuks wild gejag. Hiervan is 596 leeus gejag en die inkomste uit leeujag was R122 miljoen.

- Private wildplase huisves sowat 16 miljoen stuks wild, drie keer meer as in wildtuine en reservate onder staatsbeheer.

Popular Articles

Tourism Safety Initiative